Adriaan Scheeres, CEO and co-founder of Pragma

AScheeres

(Geskryf deur Liesel Koch. Hierdie artikel het oorspronklik in die 2014 Alumni Ingligting verskyn.)

“My oupa het my grootgemaak om my eie besigheid te begin en my eie ding te doen. Hy was my mentor en voorbeeld van eerlike, harde werk én om te belê in goeie mense,” sê Adriaan Scheeres, medestigter en uitvoerende hoof van Pragma. Pragma is die batebestuursmaatskappy wat hy 24 jaar gelede saam met sy vriend, Arnold Botha, gestig het.
Pragma het oor die jare gegroei tot ‘n maatskappy met 400 mense oor sewe kontinente met kantore in Suid-Afrika, Brasilië en China.

Adriaan is gebore op Lentedag 1960 en het grootgeword in die omgewing van Roodepoort. Beide sy ouers het saam met hul ouers na Suid-Afrika immigreer na die Tweede Wêreldoorlog. Adriaan se vader was ‘n drukker wat by CUM gewerk het en sy moeder ‘n verpleegster wat later matrone by JG Strijdomhospitaal was. Adriaan is die oudste van vier seuns met uiteenlopende beroepe: Jaco – ‘n ginekoloog in Kanada, Han – ‘n IT-spesialis in Holland en Nico – ‘n bourekenaar in Amerika.

“My oupa was die man agter my inspirasie,” sê Adriaan van sy oupa Scheeres wat ‘n skrynwerkerbesigheid op die been gebring en waar Adriaan tydens vakansies gewerk het. “My oupa het altyd gesê dat ingenieurs kan groot goed ontwerp en bou. Dit het my as jong seun baie motiveer en daarom was dit my droom om ‘n ingenieur te word. Bedryfsingenieurswese was die nommerpasrigting vir my. Op skool was ek goed met mense, prosesse en stelsels. Bedryfsingenieurswese het my daardie kombinasie gebied.

“Op 17-jarige ouderdom is ek Stellenbosch toe en het in Hombré gebly waar ek twee jaar op die HK gedien het. Ek het rugby gespeel en was baie betrokke by Ingenieurswese se Trapkarwedrenne. Die mees omstrede ding wat ek in my universiteitsloopbaan gedoen het, was om ‘n koshuisoptog te reël om te kla oor ons diesel waterverwarmer wat onklaar was en wat die US nie wou vervang nie. Toe ek voor die rektor op die rooi tapyt verskyn, vra hy: ‘Wat maak ek nou met jou?’ My antwoord was: ‘Installeer asseblief vir Hombré ‘n nuwe warmwaterverhittingstelsel.’ Hy het my so gekyk en uit sy kantoor gejaag. Die volgende week het installasiewerk aan die nuwe verhittingstelsel begin!”

Adriaan het sy BIng in 1982 behaal en ‘n MIng in Instandhoudingsbestuur in 1984. “Daardie tyd was dit ‘n redelik onbekende veld. Ek het gehou van die uitdaging om na stelsels te kyk wat gebruik kan word om die lewe van toerusting te kan verleng. Ek het ‘n beurs by die destydse Spoorweë gehad en dus my loopbaan daar afgeskop. Gedurende my dienspligjare in die Vloot het ek by Krygkor aangesluit, waar ek verantwoordelik was vir logistiek van duikbote.

“Kort daarna het ek Pragma begin. Ek het ‘n vriend, Arnold Botha, gevra om saam met my ‘n besigheid te stig na ‘n gesinsnaweek saam met die Bothas waartydens ons die moontlikheid bespreek het om iets op ons eie te begin. Ek en Arnold was beide spesialiste in logistiek en daarom dat Pragma in logistiek en instandhoudingsbestuur spesialiseer. Ek het die besigheidsontwikkeling hanteer en hy die konsultasie. In die aande het ons saam die bestuur van die maatskappy gedoen. Ons eerste kontrak was by die Munisipaliteit van Kaapstad en daarna by Nampak Tissue. So het alles begin: min geld, min slaap, min tyd van jou eie en baie harde werk.

“Pragma bestuur up-time van toerusting. Ons het die Pragma-way ontwikkel. Dit is ‘n geïntegreerde batebestuurstelsel wat by kliënte gevestig word. Ons grootste bate is mense wat die prosesse en stelsels wat ons ontwikkel, vir kliënte implementeer en bestuur. Ons droom het gegroei van ‘n konsultasiemaatskappy tot ‘n dienstemaatskappy. Na tien jaar het ons internasionaal begin werk en na vyftien jaar het ons op die Brics-lande begin fokus omdat ons produkte en dienste goed in ontwikkelende lande werk.”

Volgens Adriaan is elke industrie daarbuite hul kliënt, want elke industrie het bates wat goed gebruik moet word om suksesvol te wees.
Sy maatskappy se sukses skryf hy toe aan die spesifieke kultuur en waardestelsels wat daar heers en wat mense bymekaar hou. Tweedens word daar baie tyd spandeer aan leierskapsopleiding van senior ingenieurs en senior bestuur om seker te maak dat hulle die essensie van die besigheid kan oordra. “Ons grootste sukses is egter die jong mense wat van onder af inkom – jong ingenieurs van universiteite en universiteite van tegnologie wat jaarliks van reg oor die land aangestel word. Hulle ontvang dan opleiding en begin groei binne die maatskappy. My grootste bevrediging is om mense te sien groei, oplossings te sien werk en gelukkige kliënte te akkommodeer,” sê Adriaan. Om die Pragma-way as ‘n bewese batebestuurskonsep in die wêreld te vestig, is sy langtermyndoelwit vir die toekoms.

Met ‘n groot, bedrywige maatskappy om te bestuur, het hy gelukkig nog altyd tyd vir die belangrike mense in sy lewe. “Ek is baie lief vir mense: my vrou, dogters, familie en vriende. Ook my werksmense wat help om Pragma te bou. Min dinge gee my soveel satisfaksie as om te sien dat mense ontwikkel en hul passie in die lewe ontdek en uitleef.

“Ek is geseënd om reeds 31 jaar getroud te wees met Hettie wat ek op Universiteit ontmoet het. Ons het drie pragtige dogters. Hettie is ‘n gekwalifiseerde onderwyseres en ons het die voorreg gehad dat sy ons kinders kon ondersteun by die huis gedurende hul skooljare. Hettie is al die jare my steunpilaar, maar spesifiek die laaste 24 jaar toe ek Pragma gebou het. Ons dogters is wonderlik met hul eie talente. Al drie was in Sonop, waar Cornelle (BRek), Karike (BComm Bemarking) en Adri (BComm Logistiek) geswot het. Wat ‘n voorreg!”

Stokperdjies en belangstellings is daar vele. “Ek waterski, hengel en seil graag. Om op my Hobie 16 te seil, is vir my die lekkerste gevoel op aarde. Ek ry graag bergfiets om gesond en fiks te bly. Hierdie jaar het ek my twintigste Argus gery. Ons as gesin het wonderlike herinneringe van Afrikatoere saam met vriende of die aanpak van staproe- tes as gesin. Ons het al begin toer toe ons jongste nog in doeke was.”

Adriaan is baie dankbaar teenoor God dat sy drome bewaarheid kon word en dat hulle so geseën is. Sy lewensleuse is Laugh a lot, love a lot and live well. En as hy net drie woorde kry om homself mee op te som, sê hy: “Visionêr, strategies en aktiveerder.”

Comments are closed.